Drukkies, trane toe eis slaag R2,8 m. ná sy bene verloor

Trane van vreugde het gister in die hooggeregshof in Pretoria geloop toe skadevergoeding van R2,8 miljoen toegestaan is aan ’n meisie wie se bene as tweejarige weens swak mediese behandeling in ’n staatshospitaal geamputeer is.

Tembisa Kometsi (nou ses), wat kunsbene het, en haar tweelingsussie, Thembakazi, het elk ’n been van Olof Joubert, die gesin se prokureur, in die hof “omhels” nadat adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba die bevel verleen het.
Die tweeling se ouers, Simphiwe en Celina Kometsi, het hom eerste omhels en toe die kinders dit sien, het hulle elk ’n been gegryp, het Joubert gesê. “Dit was amazing. Daar was trane. Dit was regtig mooi, want die gesin is in droewige omstandighede.”

Die Kometsi’s is van Daveyton. Tembisa se bene is op 9 Oktober 2009 in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg geamputeer. Dít het gebeur nadat sy weens kookwater-brandwonde aan haar arms en hande op 15 September 2009 in die Verre Oos-Randse hospitaal opgeneem is. Kookwater het ook op haar gesig gespat. Die Verre Oos-Randse hospitaal se personeel was nalatig in hul monitering en behandeling van Tembisa tot 20 September 2009. Sy het weens gastro-enteritis ontwater en die bloedsomloop in haar onderbene is aangetas.

Dit het gelei tot gangreen in die bene, wat meegebring het dat haar bene gedeeltelik geamputeer moes word.
Die Gautengse LUR vir gesondheid, onder wie se beheer dié staatshospitaal val, is in November verlede jaar aanspreeklik verklaar vir die skadevergoeding wat uit die amputasie spruit. Celina (38) was gister versigtig optimisties oor die geld. Sy het herhaaldelik aan Beeld gesê: “Ek is bly, solank hulle (die verweerder) by hul woord hou (om te betaal).”

Tembisa loop nou sowat ’n maand lank met kunsbene, maar dit moet nog betaal word, het Celina gesê.
“Die tweeling is gelukkig, want nou is hulle weer dieselfde. Hulle is nou ewe lank.” Sy het gesê Tembisa kom gemaklik met die kunsbene oor die weg. Volgens Celina is sy ’n kleremaker en haar man ’n skrynwerker.
Joubert het gesê die bedrag bestaan uit R900 000 (vir algemene skade), R1,4 miljoen (vir toekomstige mediese uitgawes en die ombouing van die huis en motor om Tembisa se gestremdheid te akkommodeer) en R500 000 as ’n tussentydse betaling vir prosteses.

Daar is egter volgens hom ’n hangende dispuut met die gesondheidsdepartement oor R16,1 miljoen wat Tembisa se prostese-behoeftes betref. “Dié bedrag word benodig sodat sy bioniese knieë en lemme kan kry.”
Daar is ook ’n dispuut hangend oor R1,2 miljoen vir haar toekomstige verlies aan inkomste.