Breinskade: ‘Julle is net geldgierig’ Perk kom dalk op eise vir babas wat beseer word

ZINHLE MAPUMULO,
Mediese wanpraktyke het gelei tot “?’n magdom regsaksies” teen die Gautengse gesondheidsdepartement met eise wat teen middel verlede jaar minstens R1,9 miljard beloop het.
Van die 336 individuele gevalle het 35% te doen met serebrale gestremdheid, breinskade of vertraagdheid weens beweerde nalatigheid by geboorte.
Deskundiges sê die probleem word erger.
Sommige van die eise dateer van 2000, maar met ’n aansienlike toename tussen 2010 en 2012.
Dié syfers is bekom ná ’n versoek om toegang tot inligting deur Rapport se susterkoerant City Press en die Media24-ondersoekspan.
’n Professor in pediatrie raam 50% van die land se kinders wat aan serebrale gestremdheid ly, het die toestand opgedoen weens voorkombare geboortekomplikasies.
Olof Joubert, ’n prokureur van Pretoria, het tans 80 gevalle op sy boeke van serebrale gestremdheid wat met één hospitaal, Pholosong, verbind kan word.
Nog inligting is dat minstens 54 gevalle van serebrale gestremdheid of breinskade spruit uit geboortes in die Chris Hani- Baragwanath-hospitaal, minstens 16 in die Natalspruit-hospitaal en 13 in die Charlotte Maxeke- hospitaal.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, skryf dit toe aan ’n gebrek aan toesighouding by hospitale “waar daar te min ervare vroedvroue en verloskundiges is”.
Onderhoude met ma’s toon die probleem is erger.
Geboortetoerusting word deur gebrekkig opgeleide personeel¬lede gebruik wat tot ernstige kopbeserings lei.
Daar is ook aanduidings dat ma’s wat tydens geboortes kla oor iets wat skeefloop, geïgnoreer word.
Motsoaledi sê sy departement hanteer die probleem deur die aanstelling van deskundige spanne om heropleiding aan verpleegsters en dokters te verskaf. Die regering voer aan die eise word aangevuur deur regs verteenwoordigers wat geld hieruit probeer maak.
Volgens Motsoaledi oorweeg die staat nou ’n maksimum uitbetalingsperk, “anders speel die gesondheidsdepartement bankrot”.
Vir ouers wie se kinders breinskade opgedoen het, is die koste egter onberekenbaar.
Simon Zwane, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, erken ’n magdom regsaksies staar hulle in die gesig, “maar sosiaal-ekonomiese uitdagings en persoonlike omstandighede van pasiënte moet ook geblameer word”.
“Meer as 200?000 kinders word jaarliks in provinsiale hospitale gebore, die meeste sonder enige probleme,” sê Zwane.
Die jongste Saving Babies-verslag (2011-’12) deur die Mediese Navorsingsraad toon die hoofoorsaak van sterftes by geboorte is weens versmoring en geboortetrauma en dat die swakste gehalte sorg in distrikshospitale ¬is.
Dr. Phophi Ramathuba, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se komitee vir staatsdiensdokters, sê hulpbronne speel ’n groot rol in geboortebeserings.
Sy meen pasiënte moet liewer klagtes indien by die Raad op Gesondheidsberoepe as by regsmense omdat die raad dan stappe teen die skuldige dokters kan doen.
Volgens Zwane is die indiensneming en opleiding van vroedvroue ’n prioriteit.
“Verlede jaar het ons 120 verpleegsters as vroedvroue opgelei, asook 79 as gevorderde vroedvroue.”
Gevorderde kraamtoerusting is ook aangekoop. Volgens hom is 34 personeellede in die provinsie weens nalatigheid aan tugstappe onderwerp en is ’n stelsel van kliniese oudits ingestel.